KATVOET KOPER! VOETSTOOTS KAN JOU KELDER Print this page Contact Us
 
   
 

Doen 'n behoorlike inspeksie van jou droomhuis voordat jy die koopkontrak teken. As jy self nie te vertroud is met die praktiese sy van instandhouding en boukwaliteit nie, kry eerder 'n onafhanklike deskundige in om die huis te inspekteer en jou behoorlik te adviseer.

 
 

 Doen jy dit nie, is jou risiko tweesnydend:

1. Eerstens, geniet jy geen beskerming of verhaalsreg vir enige "patente" gebreke nie (gebreke wat selfs sonder deskundige hulp, duidelik waarneembaar is). Dit word van jou as koper verwag om die huis behoorlik te inspekteer en na gebreke op te let; dit word regtens aanvaar dat jou besluit om met die koop voort te gaan, gedoen word met inagneming van enige gebreke wat sigbaar is of maklik vasstelbaar is.
2. Tweedens, is die "voetstoots" klousule deel van alle standaard eiendomskoopooreenkomste. Die koper bind homself gewoonlik om die eiendom te koop soos wat dit tydens kontraksluiting daarna uitsien ("as is"). Die klousule beskerm die verkoper teen alle defekte, insluitende latente defekte (versteekte defekte wat nie maklik waarneembaar of vasstelbaar is nie). Die koper sal slegs 'n verhaalsreg hê as hy kan aantoon dat die verkoper geweet het van die gebrek of defek in die eiendom en die bestaan daarvan opsetlik weggesteek het, met die bedoeling om die koper te bedrieg. Ons howe het dit al pertinent gestel dat dit nie ligtelik die afleiding sal maak dat bedrog gepleeg word nie.
Die Appèlhof het onlangs 'n saak aangehoor waar die eiendom geen goedgekeurde planne vir sy buitegebou gehad het nie, terwyl 'n motorafdak die bouregulasies oorskry het.

Die hof bevind hier dat die gebreke (bestaande uit die afwesigheid van statutêr voorgeskrewe goedkeurings en magtigings) wel deur die voetstoots klousule gedek word.

Vir jou as koper beteken dit dat jy nie jou huiswerk (of speurwerk) tot die fisiese en strukturele toestande van die eiendom moet beperk nie. Jy moet ook by die plaaslike owerheid bevestiging kry dat alle munisipale voorskrifte nagekom is met die bou van die huis asook met enige latere aanbouings en verbouings op die perseel.

Tensy jy bedrog by die verkoper kan aantoon met die verswyging van hierdie gebreke, is die probleem joune en gaan jy as koper enige remediërende vereistes van die betrokke plaaslike owerheid self moet hanteer. Dit kan rampspoedige gevolge vir jou inhou.

Die skrywer, Mark Twain het die volgende raad gegee: "Buy land - they've stopped making it"! Eiendom is in die algemeen 'n suiwer belegging, maar maak seker oor die toestand daarvan, voordat jy dit koop.

BEHOUD VAN AANGESLANE BELASTINGVERLIES

Indien jou korporatiewe entiteit 'n belastingverlies na die volgende handelsjaar oordra, neem dan kennis dat dit nie meer voldoende is as die korporatiewe entiteit slegs in die volgende jaar handel dryf nie. (Hierdie beperking is nie van toepassing op individuele belastingbetalers nie.) Die Belastinghof het nou beslis dat die handelsaktiwiteite ook inkomste moet verdien. Lei die entiteit se handelsaktiwiteite nie tot inkomste nie, kan SARS weier om die belastingverlies toe te laat.

Die inkomste moet ook spesifiek verdien word uit handelsaktiwiteite. Dit gaan nie voldoende wees om net 'n bankrekening oop te hou en rente te verdien uit 'n beleggingsrekening of om dergelike inkomste te ontvang nie.

Indien hierdie situasie dalk op jou maatskappy of korporasie van toepassing gaan wees, wees pro-aktief. Verkry betyds behoorlike belastingadvies oor die spesifieke situasie. Stel vas hoe SARS se beleid jou maatskappy of korporasie gaan raak en wat julle te doen staan om dit ten beste te hanteer.

DIREKTEUR OF WERKNEMER? WATTER HOED DRA JY?

'n Maatskappydirekteur is dikwels ook 'n werknemer van die maatskappy, maar dit is nie noodwendig altyd die geval nie.

Indien die direkteur geen pertinente ooreenkoms met die maatskappy het nie, kan so 'n ooreenkoms wel geїmpliseer of afgelei word, met verwysing na die maatskappy se akte van oprigting en sy statute. Gewoonlik sal jy nie daardeur kan bepaal of die betrokke ooreenkoms wel 'n dienskontrak is nie.

Die Arbeidsappèlhof het onlangs uitspraak gelewer waar 'n werknemer (die maatskappy se rekenmeester) aangestel is as die Finansiële Direkteur.

Later het sy van die Direksie bedank en aangedui dat sy steeds as werknemer by die maatskappy sal aanbly.

Die maatskappy voer aan dat sy in 'n enkele pos as finansiële direkteur aangestel was en dat sy uit hierdie pos bedank het. Die hof maak geen bevinding oor hierdie spesifieke regsargument nie.

Die hof bevind wel dat sy onbillik ontslaan is. Die hof sê dat 'n geldige bedankingskennisgewing duidelik en ondubbelsinnig moet wees - wat dit ook duidelik sal maak dat die diensooreenkoms beëindig word. Met die onsekerheid oor die strekking van hierdie bedankingskennisgewing, kan die hof nie bevind dat die finansiële direkteur 'n ondubbelsinnige en algehele bedanking ingedien het nie.

Dit is in almal se belang om enige onsekerheid uit die weg te ruim. Dit kan ook latere litigasie verhoed. Maak seker dat elke direkteur 'n geskrewe ooreenkoms het, wat die volgende duidelik maak:-
• Sy of haar status as direkteur asook uitsluitsel oor sy of haar status as werknemer, al dan nie; en
• Alle pligte, verantwoordelikhede en vergoeding wat met elke pos gepaard gaan.

ELEKTRIESE HEININGS - HOU BY DIE WET!

Geëlektrifiseerde heinings word meer algemeen soos wat mense probeer om misdaad in hul stede en dorpe te bekamp. Indien jy van voorneme is om so 'n heining op te rig, maak tog seker dat jy voldoen aan die streng konstruksie en onderhoudsvoorskrifte en regulasies wat van toepassing is; hetsy voorgeskryf deur die Regulasies oor Elektriese Masjienerie of deur regulasies van die plaaslike owerheid.

So bepaal die regulasies en voorskrifte dat waar 'n geëlektrifiseerde heining op 'n openbare pad of in 'n stedelike gebied opgerig word, moet :
1. Die geëlektrifiseerde drade of aanhangsels, vir sover prakties moontlik so opgerig word dat niemand per ongeluk of toevallig daarmee in aanraking kan kom nie; en
2. Moet daar duidelike kennisgewings opgerig word om mense te waarsku dat die eiendom deur 'n geëlektrifiseerde heining omring en beskerm word.
Die Hooggeregshof het onlangs aan hierdie regulasies en die strafregtelike implikasies daarvan oorweging gegee. Die huiseienaar se skuldigbevinding is in hierdie geval deur die hof tersyde gestel. Die hof meld in sy uitspraak dat selfs 'n nalatige oortreding van die regulasies tot strafregtelike aanspreeklikheid aanleiding kan gee. Dit is dus nie beperk tot opsetlike optrede aan die kant van die eienaar of sy verteenwoordigers nie. Hou verder in gedagte dat enige oortreding van die regulasies en die voorskrifte die risiko sal vergroot dat iemand 'n siviele eis teen jou gaan instel indien hy beseer word of skade lei as gevolg van die heining.


EGBREUK EN SKADEVERGOEDING

In terme van die vroeë Kaapse regstelsel was egbreuk 'n misdaad en is daar strawwe daarvoor opgelê. Egbreuk is geruime tyd nie meer 'n misdaad nie, maar daar is wel 'n siviele eis tot die beskikking van die onskuldige huweliksparty teen die inmengende derde party. Die eis is gebaseer op die derde party se inbraak op die persoonlike regte van die huwelikspartye.

'n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof bevestig dat, ten spyte van oproepe dat dit oudmodies en uitgedien is in 'n moderne samelewing, die beginsel steeds van toepassing is. Die onskuldige huweliksparty sal steeds die derde party kan dagvaar vir skadevergoeding.


VERGRYPE VAN 'N BUITELANDSE REGERING? DAAR IS HULP TE KRY

As jy hoor van diplomatieke beskerming, roep dit dalk beelde by jou op van 'n onaantasbare en magtige beampte wat jou in die vreemde uit 'n oorvol tronk kom red, nadat jy verkeerdelik deur die plaaslike wetstoepassers gearresteer is. Of van diplomatieke beamptes wat nie parkeerkaartjies in die vreemde hoef te betaal nie en gevolglik parkeer net waar hulle wil.

Die konsep van diplomatieke beskerming is natuurlik veel wyer as dit. Trouens, ons Grondwet verplig ons regering om positiewe stappe te neem om die burgers teen enige ontoelaatbare aantasting van menseregte te beskerm. Dit hou in dat jy as burger die regering vir beskerming kan nader, wanneer 'n buitelandse regering inbraak maak op jou menseregte wat deur die internasionale reg erken word.

Dit sluit ook jou eiendomsregte in. 'n Suid Afrikaanse burger het suksesvol by die Hooggeregshof aansoek gedoen vir beskerming teen die onwettige onteiening van sy plase in Zimbabwe. Die hof beveel die Suid Afrikaanse regering om alle stappe te neem om die vergrype van die Zimbabwiese regering met betrekking tot die aansoeker se eiendomsreg, reg te stel.

Jy sal moet kan aantoon dat jy: -
1. 'n Suid Afrikaanse burger is.
2. Die minimum internasionaal erkende standaard van behandeling vir buitelanders nie nagekom is nie.
3. Alle regsremedies wat in die buiteland tot jou beskikking was, reeds deur jou uitgeoefen is, sonder sukses.

WEBWERF VAN DIE MAAND: DIE VOORDEEL VAN OPTIMISME

Wetenskaplike navorsing het nou bevestig dat jou vlak van optimisme 'n uitstekende aanduiding gee van goeie gesondheid, lang lewe, sukses en geluk.

Die goeie nuus is dat jy jou vlakke van optimisme kan verhoog as jy daarop ingestel is.

Kyk gerus na die volgende skakels:-
• Jy kan jou geneigdheid tot optimisme of pessimisme toets met die "Optimism Test" op die Authentic Happiness webwerf - registreer gratis en vind die toets op die bladsy gemerk "Questionnaires". www.authentichappiness.sas.upenn.edu/questionnaires.aspx.
• Daar is ook 'n magdom verrykende artikels op die internet hieroor. As jy van nature ietwat skepties is, kom aan die gang met "How To Be Optimistic" op die wikiHow webwerf te www.wikihow.com/Be-Optimistic. Jy kan ook jou natuurlike optimisme verder verfyn en verhoog - kyk na die opsommings en kommentaar oor die boek "Learned Optimism" van die sielkundige Martin Seligman te www.bainvestor.com/Learned-Optimism.html en www.shearonforschools.com/learned_optimism.htm.
• Ten laaste, as jy genoeg gehad het van die slegte en dramatiese nuus wat ons plaaslike nuusblaaie die afgelope tyd gevul het, besoek dan gerus www.sagoodnews.co.za en lees weer oor die goeie dinge wat elke dag in Suid Afrika gebeur.

Ons wens julle 'n mooi Oktober toe!

 
     
 

Make the call - 0860 889 889